Wednesday, January 19, 2011

'n Clutch - bag is gebore uit die rooiwyn glas van Namaqua




'n Modieuse sakkie wat 'n dame onder haar arm vasklamp word 'n clutch bag genoem, vir die manne wat dalk ook lees. Hierdie ene is gestik saam met 'n glas Namaqua Merlot, die wynkelder van Vredendal. Dit is 'n heerlike wyn teen 'n baie billike prys van in die R20, so dis nie 'n slegte idee om 'n draai daar te maak in blommetyd nie, en ook sommer 'n draai by oom Frik se leerwerkswinkel te maak nie! Ek weet nie, dalk help die wyn teen die muskiete wat baie van my soet bloed hou.........het vandag weer 'n nuwe soetding probeer, 'n skuinskoek, wat die buurvrou bak, vir my proe dit soos 'n kruising van 'n doughnut en 'n koeksister. Baie lekker!

Ek het natuurlik weer vanaand soos 'n prinses gesmul aan oom Frik se heerlike kos. Hier is foto's van hom en Alida alte tuis in hul kombuis. Mens kan sien op die foto dat hierdie die kombuis van 'n "leathersmith" is - sy werkswinkel is net so netjies georganiseer soos die kombuisrakke, en hy werk ook nie met stomp mense in die kombuis nie! Hy maak ook self al sy gereedskap, en toe ek hom vra om 'n pienk stelletjie vir vrouens te ontwerp, lag hy net en ek dink nie dit gaan gebeur nie...!

Op die spyskaart was 'n spinasie-tert, en mossels in 'n witwynsous met rys. Ek gaan verseker hierdie geregte maak as ek weer in my eie huisie is.

Ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid om twee sulke wyse, interessante mense te kan leer ken, en baie baie dankie Pa en Ma vir die geleentheid om hierdie kursus te kan loop - ek raak al hoe liewer vir handsakke en leer en sien regtig uit na hierdie jaar en al die nuwe skeppings en geleenthede!

No comments:

Post a Comment